Hierdie is ’n wonderlik ekonomiese en “lui” maaltyd om te berei. Kap net en rooster tot sag.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 2 uur 25 min.

6 beesvleisskenkels

2 knoffelhuisies

60 ml (¼ k) olyfolie

sout en peper na smaak

500 ml (2 k) beesvleisaftreksel

Botterskorsieslaai

500 g botterskorsie, in blokke gesny

1 rooi ui, in skywe gesny

200 g groenboontjies, punte afgesny

60 ml (¼ k) olyfolie

sout en peper

Voorverhit die oond tot 180 °C en berei ’n bakplaat voor.

  1. Vryf die vleis met knoffel, olyfolie, sout en peper. Plaas in ’n roosterpan en verbruin oor matige hitte op die stoof tot goed verbruin.
  2. Giet die aftreksel in, bedek met foelie en sit in die oond 2 uur of tot die vleis sag en gaar is. Geur met sout en peper. Sit warm voor met die botterskorsieslaai.
  3. Botterskorsieslaai: Plaas die botterskorsie, ui en groenbone in ’n roosterpan, bedruip met olyfolie, meng deur en geur. Rooster die groente 25 minute of tot gaar.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers