Genoeg vir 4 porsies

8 maalvleiskoekies (koop by supermark) of 8 hamburgerkoekies

sout en vars gemaalde swartpeper

olyfolie

TAMATIESOUS

30 ml (2 e) olyfolie

20 ml (4 t) botter

3 preie, grof gekap

2 knoffelhuisies, grof gekap

1 blik (410 g) gekapte tamaties

30 ml (2 e) blatjang

10 ml (2 t) worcestersous

sout en vars gemaalde swartpeper

hand vol basilieblare

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Koop klaar gevormde maalvleiskoekies of indien jy dit nie in die hande kry nie, vars hamburgerkoekies en vorm dit in ronde balle.

Rangskik die maalvleisballe in ’n gesmeerde oondbak en geur met sout en vars gemaalde swartpeper.

Bedruip met olyfolie en bak 10-15 minute tot gaar.

TAMATIESOUS

Verhit intussen die olyfolie en botter in ’n pan en braai die preie en knoffel tot geurig.

Roer die tamaties, blatjang en worcestersous by.

Geur met sout en peper.

Laat prut die sous ’n paar minute.

Indien die sous te vinnig droogkook, giet ’n bietjie hoenderaftreksel of kookwater by.

Skep die gaar maalvleisballe by die sous en laat prut ’n paar minute.

Sprinkel die basilieblare oor en sit voor saam met spaghetti of roosterbrood.