Margaret Hurter van Ladysmith maak al jare lank dié tert. Dis ’n groot treffer onder haar vriende en familie, en hulle vra altyd sy moet dit maak wanneer hulle saamkuier.

GENOEG VIR 4-6 MENSE

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 35-40 min.

FRIKKADELLE

750-800 g maer beesmaalvleis

1 ui, fyn gekap

30 ml (2 e) tamatiesous

30 ml (2 e) soetrissiesous

1 ekstragroot eier, geklits

BOLAAG

375 ml (1½ k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

4 ekstragroot eiers

50 ml botter, gesmelt

375 ml (1½ k) melk

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Frikkadelle Meng die vleis, ui, souse en eier goed. Maak bolletjies so groot soos ’n gholfbal. Pak in ’n diep, oondvaste bak en laat eenkant staan.
  2. Bolaag Meng die droë bestanddele in ’n groot bak.
  3. Klits die eiers, botter en melk, en voeg by die droë bestanddele. Meng goed.
  4. Gooi die beslag oor die frikkadelle en bak 35-40 min. in die oond. Sit voor saam met ’n tamatieslaai.