Hierdie een is ‘n aanpassing op ‘n resep wat ek van Annette Kestler, vir lank FairLady se kosredakteur en een van my mentors, gekry het.

Dit kry sommer ‘n hele verskeidenheid bone en ook lensies in.

As jy aan die haastige kant is, gebruik sommer geblikte bone en lensies, maar jy moet die sop darem te minste so ‘n halfuur laat kook sodat die geure goed kan meng.

Genoeg vir 10 mense

Voorbereiding: 15 min

Weektyd: 1 uur of oornag

Gaarmaaktyd: 2 uur (gewone kastrol) of 1 uur (drukpot)

125 ml (1/2k) gespikkelde suikerboontjies, geweek

125 ml (1/2k) nierboontjies, geweek

125 ml (1/2k) rooi nierboontjies, geweek

60 ml (1/4k) bruinlensies

30 ml (2e) olie

3 preie of uie, gesny

3 knoffelhuisies, gekneus

5 wortels, gerasper

1 bos sopseldery, grof gekap

1 kg sopbene

2-3 liters hoenderaftreksel

4 ryp tamaties, ontvel en gekap

10 ml (2t) mosterdpoeier

Sout en peper na smaak

Gerasperde suurlemoenskil van 1—2 suurlemoene

Gekapte pietersielie

Spoel die geweekte bone af, bedek met water en bring vinnig tot kookpunt. Dreineer Verhit die olie in ‘n groot sopkastrol en roerbraai die groente  (buiten tamaties) saam met sopbene tot glansig. Voeg die bone en lensies by. Giet die aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut tot die bone en lensies sag is. Voeg die tamaties by asook die geurmiddels en prut tot ‘n geurige dik sop gevorm het. Sprinkel die suurlemoenskil en pieterisielie oor. Sit voor met vars gebakte plaasbrood.

Wenk: Jy kan ‘n heeltemal vegetariese variasie ook maak – laat dan net die sopbene weg en vervang die hoenderaftreksel met groenteaftreksel.

Sien ook die uitgawe van 26 Augustus vir nog resepte met bone en lensies.