Bobotie is die perfekte gereg vir ’n onhandige man. Net die vleis en uie word vooraf gebraai en daarna word alles gemeng en in die oond gebak.

BOBOTIE

2 e (30 ml) olie

2 uie, fyn gekap (sien bl. 44)

1 kg maalvleis

1 sny witbrood

½ k (125 ml) melk

1 eier

4 t (20 ml) matige kerriepoeier

2 t (10 ml) sout

½ t (2,5 ml) swartpeper

1 t (5 ml) borrie

½ t (2,5 ml) fyn koljander

2 e (30 ml) suurlemoensap of asyn

sowat ¼ k (50 ml) amandelvlokkies

½ k (125 ml) pitlose rosyne

1 Granny Smith-appel, geskil en gerasper

3 e (45 ml) blatjang

BOLAAG

½ k (125 ml) melk

1 eier

5 lourierblare

STAP 1

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondvaste bak wat 8 koppies (2 L) kan hou.

STAP 2

Verhit die olie in ’n groot pan oor matige hitte en braai die uie tot ligbruin en sag. Skep die uie in ’n bak uit en hou eenkant.

STAP 3

Braai die maalvleis ’n bietjie op ’n slag  ruin in dieselfde pan. Moenie al die vleis gelyk ingooi nie, dit sal die temperatuur verlaag en die vleis dan eerder laat kook as braai en laat klonte vorm. Skep die vleis by die uie soos dit gaar word.

STAP 4

Week die brood in die melk, druk die meeste melk uit en breek fyn met ’n vurk. Hou al die melk – dit word weer gebruik.

STAP 5

Voeg al die bestanddele (behalwe die bolaag se bestanddele)en die melk waarin die brood geweek het, by die gaar maalvleis en uie. Meng goed.

STAP 6

Skep die mengsel in die gesmeerde bak en bak 25 minute.

STAP 7

Klits die melk en eier vir die bolaag saam en giet oor die warm bobotie. Steek die lourierblare ewe ver uitmekaar in die bobotie. Bak nog 10 minute tot die eier bo-op gestol is.Genoeg vir 6 – 8 mense.

TAMATIESAMBAL

3 ryp tamaties

1 ui, fyn gekap

2 e (30 ml) gekapte, vars koljanderblare

1 e (15 ml) strooisuiker

2 t (10 ml) witasyn

1 t (5 ml) suurlemoensap

’n knippie sout

½ t (2,5 ml) witpeper

Sny die tamaties horisontaal in die helfte en skep die pitte uit. Kap die tamaties in klein blokkies met ’n skerp mes. Meng die res van die bestanddele met die gekapte tamaties.