Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 1½-2 uur

Gaarmaakmetode: oondbak

KASSEROL

1 kg beenlose stowebeesvleisstukkies soos bolo of nek

gegeurde koekmeel

olie om in te braai

2 uie, gekap

4 knoffelhuisies, fyngedruk

500 ml (2 k) verhitte beesvleisaftreksel

375 ml (1½ k) bier

2 lourierblare

80 ml (1/3 k) groen olywe

15 ml (1 e) gerasperde suurlemoenskil

OM BO-OOR TE SPRINKEL

4 ansjovisfilette

30 ml (2 e) kappertjiesade,

goed drooggedruk

gekapte pietersielie

Voorverhit die oond tot 160 °C.

KASSEROL

Rol die vleisstukkies in die meel. Verhit ’n bietjie olie in ’n kasserol en roerbraai die uie en die knoffel daarin tot net sag.

Voeg die vleis bietjie vir bietjie by en braai tot net bruin. Meng die vleisaftreksel en bier en giet dit oor die vleis in die kasserol. Voeg die lourierblare by. Bedek en plaas dit in die oond. Bak 1½-2 uur of tot die vleis sag is. Voeg die olywe die laaste halfuur by en geur met die suurlemoenskil.

OM BO-OOR TE SPRINKEL

Braai intussen die asjovisfilette in ’n bietjie verhitte olie tot dit begin verbrokkel, voeg die kappertjiesade by en braai sowat4minute. Sprinkel dit oor die kasserol en garneer met die pietersielie. Sit dit voor met fynaartappels.