Genoeg vir 4

Voorbereiding: 10 min

Totale tyd: 2uur

'n Bredie is mos trooskos, warmmaakkos, koesterkos en kuierkos. En kyk net hoeveel verskillende bredies kan jy uit een resep saamstel! Sien ons wenke onderaan resep.

¼ k (60 ml) olie

1 groot ui, grof gekap

2 knoffelhuisies, gekap

80 ml koekmeel

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

1 kg stowebeesvleis, in 15 mm-blokkies gesny

1 k (250 ml) bier

1 k (250 ml) rooiwyn

1½ k (375 ml) beesvleisaftreksel

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

1 e (15 ml) gekapte, vars of droë, gemengde kruie

3 wortels, in ringe gesny

3 aartappels, geskil en in kwarte gesny

vars kruie vir garnering (bv. pietersielie of tiemie)

Verhit 2 eetlepels van die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte en braai die ui en knoffel tot sag en bruin.

Skep dit met ’n gaatjieslepel uit en hou eenkant.

Geur die meel met sout en peper en rol die vleisblokkies in die meel om dit te bedek.

Die meel kan ook in ’n plastieksak gesit word en dan kan die vleisblokkies daarin geskud word.

Braai die vleisblokkies in kleiner hoeveelhede in dieselfde kastrol as waarin die ui gebraai is tot bruin.

Voeg nog olie by soos nodig.

Nadat al die vleis gebraai is, skep dit terug in die kastrol saam met die gebraaide ui en knoffel.

Voeg die bier, rooiwyn, aftreksel, tamatiepasta en die kruie by.

Sit die deksel op, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat dit 30 minute prut (liggies kook).

Voeg die wortels en aartappels by en laat nog 50 – 60 minute prut tot die vleis sag is.

Sit dit met rys of kapokaartappels voor.

WENKE

Gebruik goedkoper vleissnitte vir bredies soos bolo, dikrib, platrib, borsstuk, binneboud of diklies.

Skaapvleisbredie: Gebruik die resep net so en vervang net die beesvleis deur skaapvleis.

Bedek die geskilde en gesnyde aartappels met water om te voorkom dat dit verkleur.

Tamatiebredie: Vervang die bier en wyn deur 2 blikkies (410 g elk) tamaties.

Boontjiebredie: Sny 500 g groenboontjies in stukkies en voeg dit saam met die aartappels by. Laat die wortels weg en vervang die bier en wyn deur ekstra aftreksel.

Kerrie: Vervang die bier en wyn deur aftreksel en roer 2 e (30 ml) kerriepoeier, 1 e (15 ml) bruinsuiker en 2 e (30 ml) asyn by die aftreksel.