Mev. G.E. du Toit van Bloemfontein het hierdie staatmakerresep in 1970 in ’n tydskrif gekry. En ons het dit ’n bietjie aangepas. Dis beslis ’n wenner.

Genoeg vir 4-6 mense 

Bereiding: 15-20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 3-3¼ uur 

30 ml (2 e) olyfolie

1 kg beesstertstukke

15 ml (1 e) mosterdpoeier

15 ml (1 e) koekmeel

10 ml (2 t) sout

250 ml (1 k) lemoensap

15 ml (1 e) suurlemoensap

10 ml (2 t) worcestersous

125 ml (½ k) sultanas

2 selderystingels, in skyfies gesny

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Verhit die olie in ’n kastrol wat in die oond kan gaan en braai die beesstert ’n paar stukke op ’n slag tot goudbruin.

Meng die mosterdpoeier, meel, sout, lemoensap, suurlemoensap en worcestersous tot glad.

Plaas die gebraaide vleisstukke terug in die pot.

Voeg die mosterdmengsel en die sultanas by, meng goed en bedek die kastrol met ’n styfpassende deksel of foelie.

Plaas die kastrol vir sowat 3 uur in die oond.

Verwyder die deksel of foelie sodra die vleis sag is en sit die seldery by, bak nog sowat 15 minute en sit voor saam met geroosterde tamaties en groenslaai.