Die geur van die beesvleisvulsel is hemels. Geniet hierdie Banting-resep saam met vriende of familie.

Genoeg vir 2-4

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: Sowat 2,5 uur

Vulsel

30 ml (2 e) olyfolie

500 g beesvleis-ghoelasj

1 ui, gekap

4 knoffelhuisies, gekap

5 ml (1 t) komynsaad, gerooster en fyngedruk

5 ml (1 t) koljandersaad, gerooster en fyngedruk

3 wonderpeper, fyngedruk

1 blik (400 g) heel kersietamaties

5 ml (1 t) suiker

500 ml (2 k) beesvleisaftreksel

1 kaneelstok

Eiervrugbote

2 eiervrugte, gehalveer

olyfolie

sout en vars gemaalde swartpeper

’n hand vol vars oreganum, gekap

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Vulsel: Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte. Voeg die vleis by en verbruin 5 minute. Roer die ui, knoffel, komyn, koljander en wonderpeper in. Verhoog die hitte en braai die speserye.
  2. Verminder die hitte. Voeg die tamaties, suiker, aftreksel en kaneelstok by. Bedek en laat prut 2 uur terwyl jy ná ’n halfuur af en toe roer.
  3. Eiervrugbote: Sny kepe in die vlees van die eiervrugte sonder om die skil te sny. Bedruip met olie, geur en rooster ’n halfuur. Laat afkoel. Skep dan die binnekante van die eiervrugte uit en voeg by die vleisvulsel.
  4. Versnipper die vleis met twee vurke. Skep die vulsel in die eiervrugbote en bestrooi met vars oreganum.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander