Ons kook nie graag met soppoeier nie, maar hier gee dit ’n onverbeterlike smaak aan die vleis wat geurig in ’n baksakkie gaargemaak word. Die grootste lekkerte is geen vuil oondpanne wat gewas moet word nie.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2½ uur

1,3 kg heel borsstuk of ontbeende dikrib (gerol), skof of bolo

15 ml (1 e) Franse mosterd of heelkorrelmosterd

1 pakkie (60 g) sampioenroomsoppoeier

10 piekeluie

2 selderystingels, in stukke gesny

1 suurlemoen, geskil en in stukke gesny

Voorverhit die oond tot 160 °C.

  1. Smeer die vleis met die mosterd, strooi die sampioensoppoeier oor en plaas dit in ’n baksakkie. Bind die sakkie lossies toe en prik ’n paar gaatjies.
  2. Plaas die baksakkie in ’n oondpan en bak 45 minute vir elke 500 g vleis. Maak die sakkie oop en voeg die uie, seldery en suurlemoenstukke by. Bind dit weer toe en bak nog 45 minute of tot die vleis sag is.
  3. Sit voor met gebakte aartappels en gestoomde groen groente.