Lewer sowat 25-30

Bereiding: 15 min.

Staan: 1 uur

Gaarmaak: 15 min.

4 groot aartappels

sout en vars gemaalde swartpeper

125 ml (½ k) meel

60 ml (¼ k) melk

1 eier

385 g soutbeesvleis, gekap

olie vir diepbraai

  1. Plaas die helfte van die aartappels, geskil en in stukke gesny, in ’n middelslagkastrol. Bedek met water, geur met die sout en bring tot kookpunt. Kook sowat 15 min. tot die aartappels sag is. Dreineer en druk deur ’n sif in ’n bak.
  2. Skil die oorblywende aartappels en rasper dit grof. Draai die gerasperde aartappels in ’n kombuishanddoek toe en druk soveel moontlik vloeistof uit. Plaas die gerasperde aartappels in die bak.
  3. Roer die meel, melk, eier, sout, peper en soutbeesvleis in. Strooi meel op ’n skinkbord of bord, skep eetlepels vol van die mengsel op die skinkbord en verkoel ’n uur lank in die yskas.
  4. Verhit die olie in ’n groot, swaar kastrol oor matige hitte en braai dan die happies in sarsies tot goudbruin. Sit voor saam met ’n doopsous van jou keuse.