’n Eenvoudige gereg om in ’n besige week te maak. Voeg gerus nog bestanddele soos steurgarnale en groente by jou jambalaia.

GENOEG VIR 6 MENSE

Bereiding: 5 min.

Gaarmaak: 20 min.

200 g langkorrelrys

15 ml (1 e) olyfolie

300 g varkworsies

10 ml (2 t) Cajun-speserye

5 ml (1 t) paprika

2,5 ml (½ t) brandrissiepoeier

1 ui, fyn gekap

400 g-blik gekapte tamaties

250 g bevrore gemengde groente

pietersielie vir garnering

  1. Gooi die rys in ’n sif en spoel af onder koue kraanwater tot die water helder loop.
  2. Verhit die olie in ’n pan en verbruin die worsies ’n paar minute. Roer die speserye en ui in en braai 2 min.
  3. Voeg die rys by en braai 30 sek. Voeg die tamaties en 400 ml water by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte, bedek en laat 10 min. prut. Roer die groente in en kook nog 10 min. tot deurgaar. Geur goed en voeg die pietersielie by vir garnering.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers