Beproef hierdie smaaklike frikkadelle gebak in ’n tamatiesous met stukkies gesmelte kaas. Sit voor saam met brood of pap.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 35 min.

2 snye witbrood, korsies verwyder

50 g botter

60 ml (¼ k) olyfolie, vir braai

1 ui, fyn gekap

2 knoffelhuisies, gekap

500 g volstruismaalvleis

1 eier

5 ml (1 t) fyn wonderpeper

’n hand vol pietersielie, gekap

sout en swartpeper

45 ml (3 e) meel

Tamatiesous

15 ml (1 e) olie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, gekap

2 x 410 g-blikke gekapte tamaties

5 ml (1 t) suiker

sout en swartpeper

50 g mozzarellakaas

Voorverhit die oond tot 200 °C

  1. Week die brood in water en haal dan uit. Druk die oortollige water sagkens uit en sit eenkant. Verhit die botter en 5 ml (1 t) olie in ’n groot kleefwerende pan en braai die ui en knoffel tot deurskynend.
  2. Meng die uimengsel en maalvleis in ’n groot bak. Voeg die geweekte brood, eier, wonderpeper, pietersielie en geursel by.
  3. Vorm die mengsel in balle en bedek met die meel. Verhit die oorblywende olie in ’n groot kleefwerende braaipan en braai die frikkadelle in sarsies 3 min. weerskante. Haal uit die pan en sit eenkant.
  4. Tamatiesous Verhit die olie in ’n middelslag-kastrol. Voeg die ui en knoffel by en braai tot goudkleurig. Voeg die tamaties, suiker en geursel by. Laat dit sowat 15 min. prut tot verminder.
  5. Giet die sous en frikkadelle in ’n bakskottel, strooi die kaas oor en bak 10 min. of tot die kaas gesmelt het.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan