Maklike, heerlike sop wat die hele gesin sal geniet.

GENOEG VIR 6 MENSE

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 45 min.

1 kg patat, grof gekap

300 g pampoen, in blokkies gesny

2 appels, in wiggies gesny

45 ml (3 e) olyfolie

sout en vars gemaalde peper

1 ui, fyn gekap

10 ml (2 t) koljandersaad, fyn gedruk

10 ml (2 t) komynsaad, fyn gedruk

20 g vars gemmer, gerasper

400 g klappermelk

750 ml (3 k) groenteaftreksel

Griekse jogurt en gekapte koljander vir voorsit

Voorverhit die oond tot 200 °C.

1.    Sprei die patat, pampoen en appelwiggies in ’n groot roosterpan uit. Bedruip met 30 ml (2 e) van die olie en geur met die sout en vars gemaalde peper. Rooster 30 min. of tot sag en goudkleurig.

2.    Verhit die oorblywende olie in ’n groot kastrol. Voeg die ui by en braai 5 min. oor matige hitte. Voeg die koljander en komynsaad by en braai nog 5 min. tot geurig.

3.    Voeg die gemmer, klappermelk, aftreksel en ’n knippie sout by en laat liggies prut. Wanneer die patat, pampoen en appel gaar is, voeg dit versigtig by die kastrol. Laat prut nog 5 min. en verwyder van die hitte. Verwerk die sop met ’n stokmenger tot glad.

4.    Sit voor met ’n skeut jogurt en ’n bietjie gekapte koljander bo-oor gestrooi.

Deur Hope Malau

Foto: Megan Miller