Vleispryse skiet die hoogte in en dis tyd vir ’n plaasvervanger. Hier is ’n lekker alternatief vir vleiskerrie.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 5 min.

Gaarmaak: 30 min.

45 ml (3 e) olie

1 ui, in blokkies gesny

2 groot knoffelhuisies, fyngedruk

30 ml (2 e) kerriepoeier

5 ml (1 t) wonderpeperpoeier

5 ml (1 t) neutmuskaatpoeier

7 ml (1½ t) gerookte paprika

10 ml (2 t) droë tiemie

5 ml (1 t) komynpoeier

2,5 ml (½ t) rooipeper

5 ml (1 t) witpeper

4 aartappels, in blokkies gesny

2 x 400 g-blikke keker-ertjies, gedreineer

1 x 400 g-blik gekapte tamaties

500 ml (2 k) hoenderaftreksel

’n hand vol pietersielie, gekap

sout na smaak

1. Verhit die olie in ’n pan oor matig lae hitte. Soteer die ui, knoffel, kerrie, wonderpeperpoeier, neutmuskaat en paprika tot geurig.

2. Roer die tiemie, komyn, rooi- en witpeper en aartappels by. Kook 8 min. terwyl jy roer.

3. Voeg die keker-ertjies, tamaties en aftreksel by. Kook nog 10 min. of tot die aartappels sag is.

4. Voeg die pietersielie by en geur met die sout. Sit voor met die stysel van jou keuse, indien verkies.

Deur Hope Malau

Foto’s: Megan Miller