Hierdie heerlike terte kan as ’n maaltyd of ’n voorgereg geniet word.

GENOEG VIR 6

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 60 min.

Deeg

200 g botter

580 ml (2? k) meel

’n knippie sout

1 eier

10 ml (2 t) witwynasyn

10 ml (2 t) yskoue water

Vulsel

300 g kersietamaties aan die stingel

15 ml (1 e) balsemieke asyn

1 rooi ui

15 ml (1 e) olyfolie

2 knoffelhuisies, fyngedruk

1 murgpampoentjie, in skywe gesny

30 ml (2 e) pesto

250 ml (1 k) mozzarella, in skywe gesny

sout en peper

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n veerbakpan van 20 cm.

  1. Vryf die botter in ’n bak met jou vingerpunte by die meel in tot dit soos broodkrummels lyk.
  2. Klits die eier, asyn en water in ’n ander bak. Voeg die vloeistof stadig by die meelmengsel en meng met die hand om ’n sagte deeg te vorm. Vou in kleefplastiek toe en verkoel sowat 30 min.
  3. VULSEL Plaas die tamaties op ’n bakplaat, bedruip met balsemieke asyn en rooster 20 min.
  4. Braai die ui in ’n pan oor lae hitte tot sag. Voeg die knoffel en murgpampoentjie by en braai tot die murgpampoentjie sag is.
  5. Rol die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en voer die bakpan uit. Blindbak die deeg – plaas bakpapier oor die bodem en vul met rou rys. Bak 10 min., verwyder die bakpapier en bak nog 5 min. in die oond.
  6. Smeer die uiemengsel oor die tertbodem en pak die tamaties in lae bo-op. Bedruip met pesto.
  7. Rangskik die kaas oor die peste en bak 25 min. of tot die kaas gesmelt en verbruin het. Geur met sout en peper.

Deur Hope Malau

Foto’s: Jacques Stander