Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 35 min.

60 ml (¼ k) olyfolie

3 rooi uie, in fyn skywe gesny

2 knoffelhuisies, fyngedruk

500 ml (2 k) rys

5 ml (1 t) borrie

5 ml (1 t) paprika

750 ml (3 k) warm groenteaftreksel

3 takkies roosmaryn, gekap

2 eiervrugte, in dun skywe gesny

5 murgpampoentjies, met ’n skiller in linte gesny

200 g kersietamaties

150 g bevrore ertjies

’n hand vol pietersielie, gekap

VIR VOORSIT

gemengde slaaiblare

  1. Verhit 15 ml (1 e) olie in ’n braaipan oor matige hitte. Voeg die uie en knoffel by en braai 2 minute of tot sag.
  2. Voeg die rys, borrie en paprika by en roer tot al die rys goed met die speserye bedek is. Giet die aftreksel in en voeg die roosmaryn by. Verlaag die hitte en laat prut 20 minute tot die rys gaar is en amper al die vloeistof verminder het.
  3. Verhit intussen ’n roosterpan oor matige hitte en verf weerskante van die eiervrug en murgpampoentjies met die oorblywende olie.
  4. Sodra die pan effens begin rook, rooster die eiervrug en murgpampoentjies ’n minuut weerskante of tot gaar na smaak en sit eenkant.
  5. Voeg die tamaties en ertjies by die rys en laat nog 4 minute prut.
  6. Verwyder die pan van die hitte. Meng die geroosterde groente en pietersielie sagkens deur. Sit voor saam met die gemengde slaaiblare.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander