Dit is ’n heerlike vegetariese gereg. Jy kan dit ook saam met korserige brood geniet vir ’n heilsamer maaltyd.

Genoeg vir 4

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 50 min.

125 ml (½ k) olyfolie

1 ui, fyn gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

2 x 400 g heel geskilde tamaties, gekap

2 takkies tiemie, gekap

10 ml (2 t) bruinsuiker

’n hand vol basilie, gekap

sout en peper

4 eiervrugte, in skywe gesny

100 g mozzarella, gerasper

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n bakskottel.

  1. Verhit 30 ml (2 e) olie in ’n kastrol oor matige hitte. Voeg die ui en knoffel by en soteer tot sag. Voeg die tamaties en tiemie by en laat 15 min. prut.
  2. Voeg die suiker en basilie by en geur. Verhit ’n roosterpan oor hoë hitte tot rokerig. Voeg olie in die pan en braai die eiervrugskywe weerskante tot amper sag en bruin. Dreineer op kombuispapier.
  3. Skep ’n kwart van die tamatiesous in die bakskottel, gevolg deur ’n laag eiervrug en strooi dan ’n derde van die kaas oor. Herhaal en eindig met die tamatiesous. Bestrooi met die oorblywende kaas en basilie.
  4. Bak 30 min. of tot die kaas borrelend en goudkleurig is.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan