Sit hierdie interessante maar verspot maklike slaai van gesoteerde tamaties en bone op ’n mieliemeel-platbrood voor.

SLAAI

30 ml olyfolie; 500 g (2 houertjies) gemengde baba-tamaties; 15 ml balsemieke asyn; bruinsuiker na smaak; sout en peper na smaak; 1 blik (440 g) rooi nierbone, gedreineer; ¼ komkommer, in klein blokkies gesny; ’n paar swart olywe; ’n paar vars basilieblare

  1. Verhit die olie in ’n groot pan en roerbraai die tamaties tot die skil net-net begin oopbars.
  2. Sprinkel die balsemieke asyn oor, asook ’n bietjie suiker indien verkies.
  3. Geur na smaak met sout en peper.
  4. Verwyder van hitte.
  5. Meng die bone, komkommer en olywe by, geur goed met sout en peper en sprinkel nog asyn
  6. en olyfolie oor indien verkies.
  7. Sit voor op die mieliemeel-platbrood en garneer met vars basilieblare.

MIELIEMEEL-PLATBROOD

Die brood is basies gekookte mieliepap wat jy in ’n koekpan vasdruk en dan bak. Jy kan selfs koue, stywe oorskiet-mieliepap gebruik.

750 ml warm water; 5 ml sout; 750 ml braaipap; 45 ml olyfolie; ’n paar vars takkies roosmaryn

Giet die water en sout in ’n kastrol en bring dit tot kookpunt.

Roer die mieliemeel by en meng baie goed.

Verlaag die hitte en kook 20-30 minute, roer elke nou en dan om te voorkom dat dit aanbrand. Druk dit vas op die boom van ’n goed gesmeerde losboompan van sowat 23 cm in deursnee. Smeer met olyfolie en druk die roosmaryntakkies losweg in die mieliepap. Sit vir sowat 5-10 minute onder die vooraf verhitte oondrooster of tot goudbruin langs die kante.

Variasie: Die tamatieslaai kan ook saam met gebakte patat voorgesit word.