Genoeg vir 4 mense

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

2 worsbroodrolletjies

45 ml (3 e) olyfolie

sout en vars gemaalde swartpeper

2 hoenderborsfilette

3 repe spekvleis, gekap

SOUS

2 knoffelhuisies, fyn gemaal

2 ansjovisse, gekap

60 ml (¼ k) gerasperde parmesaankaas

60 ml (¼ k) mayonnaise

15 ml (1 e) witwynasyn

VIR SAAMSTEL

1 kop cos-blaarslaai

1 avokado, in blokkies gesny

skaafsels parmesaankaas

1 Voorverhit die oond tot 180 °C.

2 Maak croutons van die broodrolletjies. Skeur of sny die rolletjies in stukke. Sprei die stukke op ’n bakplaat uit en besprinkel met 30 ml (2 e) van die olyfolie. Vryf dit by die brood in en geur met die sout en peper. Bak 10 minute terwyl jy dit af en toe omdraai.

3 Vryf die hoender met die oorblywende olie en geur met die sout en peper. Verhit ’n braaipan oor matige hitte, voeg die hoender by en kook 5 minute weerskante tot gaar. Toets dit deur die hoender met ’n mes te prik – daar moet geen pienk vloeistof uitloop nie. Verwyder uit die pan.

4 Braai die spekvleis in dieselfde pan tot gaar.

5 Sous Meng die bestanddele tot dik en romerig.

6 Vir saamstel Skeur die blaarslaai in stukke en plaas in ’n groot bak. Skeur die hoender in repe en strooi saam met die croutons en spekvleis oor die blare. Voeg die avokado en slaaisous by en meng liggies met jou vingerpunte. Garneer met die parmesaankaas en sit dadelik voor.

- Hope Malau