Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

GROENTESLAAI

2 bete, geskil en in wiggies gesny

10 babawortels

1 rooi ui, in wiggies gesny

2 witwortels, geskil en gekap

8 rooi aartappels, in skywe gesny

8 radyse, in skywe gesny

45 ml (3 e) olie

sout en peper

45 ml (3 e) balsemieke asyn

geroosterde neute en gekrummelde feta vir garnering

PERI-PERI-LEWERS

125 ml (½ k) peri-peri-sous (resep onder)

500 g hoenderlewers, skoongemaak

1 ui, fyn gekap

60 ml (¼ k) soetbrandrissiesous

30 ml (2 e) sider-asyn

sout en peper

1 Voorverhit die oond tot 180 °C.

2 Sit al die groente in ’n bak, bedruip met die olie en meng om te bedek. Geur met sout en peper.

3 Sit die groente op ’n bakplaat. Rooster 30 minute en draai elke 10 minute om. Gooi in ’n opskepbak en bedruip met die balsemieke asyn. Strooi neute en feta bo-oor.

4 Peri-peri-lewer: Sit 30 ml (2 e) van die peri-peri-sous in ’n pan oor matige hitte. Voeg die skoongemaakte hoenderlewers by en kook tot verbruin aan die buitekant. Voeg die ui by en kook tot deurskynend.

5 Roer die res van die peri-peri-sous, die brandrissiesous en die asyn in. Laat prut 5 minute en geur met die sout en peper. Sit voor saam met die geroosterde groenteslaai.

MAAK JOU EIE PERI-PERI-SOUS Sit 2 ml (½ t) paprika, 4 rooi brandrissies, 3 knoffelhuisies, 2 (½ t) brandrissiepoeier, 60 ml (¼ k) suurlemoensap en 30 ml (2 e) siderasyn in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.

- Hope Malau