Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

1 pampoen

15 ml (1 e) botter

30 ml (2 e) kerriepoeier

sout en peper

400 g spruitkool, in dun skywe gesny

1 rooi-ui, in skywe gesny

1 eiergeel

60 ml (¼ k) suurlemoensap

45 ml (3 e) appelasyn

5 ml (1 t) Dijon-mosterd

15 ml (1 e) gemengde saad

45 ml (3 e) sonneblomolie

2 rooi appels, in skywe gesny

hamskaafsels

1 Voorverhit die oond tot 200 °C.

2 Sny die pampoen in skywe en verf die skywe oraloor met die botter. Geur met die kerriepoeier en rooster 30 minute in die oond. Geur met die sout.

3 Sit die gesnyde spruitkool saam met die ui in ’n gaatjiesbak. Gooi warm water oor en sit eenkant dat dit kan afkoel.

4 Klits die eiergeel, suurlemoensap, asyn, mosterd, gemengde saad, sout en peper in ’n bak. Giet die olie in ’n stadige, egalige stroom in en klits tot geëmulsifiseer.

5 Plaas die spruitkoolmengsel in ’n bak. Voeg die slaaisous en appelskywe by en meng sagkens om te bedek. Laat staan 10 minute terwyl jy af en toe meng.

6 Voeg die hamskaafsels by die slaai en sit voor met die geroosterde pampoen.

- Hope Malau