Genoeg vir 6 mense

Bereidingstyd: 15 minute

Rooktyd: 15 minute

Gaarmaaktyd: 25 minute

GEROOKTE AARTAPPELS

6 rooibosteesakkies

1 kg baba-aartappels met skil

gekook, gehalveer

KRUIE-MAYONNAISE

3 eiergele

5 ml (1 t) droë mosterdpoeier

sap van ’n halwe suurlemoen

knippie sout

750 ml (3 k) olie

4 knoffelhuisies, fyngedruk

80 ml (1/3 k) gekapte kruie, soos roosmaryn, basilie en tiemie

AFRONDING

125 ml (½ k) langsteelkappertjiesade

koekmeel

olie vir diepvetbraai

vars gemaalde swartpeper

ekstra kruie vir bo-oor sprinkle

  1. Gerookte aartappels Voer ’n groot (ouerige) pan met ’n deksel uit met tinfoelie. Skeur die teesakkies oop, sprinkel die rooibosteeblaartjies op die foelie en plaas ’n rakkie bo-op.
  2. Plaas nog ’n laag tinfoelie op die rakkie en steek ’n paar gate in met ’n mes. Plaas die aartappels bo-op. Sit op ’n warm stoofplaat en verhit tot ’n rokerigheid langs die kant verskyn. Maak die pan stewig toe (jy kan nog ’n lagie tinfoelie bo-oor plaas). Verhit 12-15 minute en verwyder van die plaat. Laat afkoel.
  3. Kruie-mayonnaise Plaas die eiergele in ’n voedselverwerker en verwerk tot skuimerig. Voeg die mosterd, suurlemoen en sout by en verwerk sowat 2 minute tot goed gemeng. Giet die olie stadig deur die tuit by en verwerk tot lig en dik (as jy te vinnig werk, gaan die mayonnaise nie dik word nie). Voeg die knoffel en kruie by en verwerk tot goed ingemeng.
  4. Afronding Droog die kappertjiesade met kombuispapier af. Doop in die koekmeel en skud enige orige koekmeel af.
  5. Diepbraai in warm olie tot bros. Meng die kruiemayonnaise deur die gerookte aartappels, geur met vars gemaalde swartpeper en nog gekapte kruie en sprinkle die brosgebraaide kappertjiesade oor.