Vye slaai

1. Gebakte bloukaas-vye: Sny ’n kruisie aan die bokant van ’n paar vye, druk oop, krummel ’n bietjie bloukaas oor, bedrup met heuning en rooster in die oond tot die kaas gesmelt is. Sit voor as ’n bygereg of saam met ’n kaasbord.

2. Vyepoeding: Maak ’n eenvoudige vanielje-bokskoekmengsel aan. Giet in ’n tertbak, pak gehalveerde, vars vye bo-op en bak volgens die aanwysings op die pakkie. Sit voor saam met roomys en gekapte okkerneute.

3. Spek en vye slaai: Sny ’n paar vars vye in kwarte. Braai ’n pakkie spekrepies tot lekker bros en skeur in stukkies. Versprei slaaiblare op ’n plat slaaibord, pak die vye, skyfies camembert of brie op die slaaiblare en sprinkel die spekstukkies oor. Sit voor saam met ’n soeterige slaaisous.

Deur: Esther Malan (kos-assistent by Huisgenoot & YOU)