Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

KOLJANDEROLIE

30 ml (2 e) koljandersaad

20 ml (4 t) brandrissievlokkies

500 ml (2 k) goeie olyfolie

SLAAISOUS

125 ml (½ k) water

125 ml (½ k) suiker

1 suurlemoen se sap en skil

¹/³ komkommer, pitjies verwyder en in klein blokkies gesny

1 rooi soetrissie, gerooster, skil

afgetrek en in blokkies gesny

20 ml (4 t) vars koljanderblare, Gekap

SLAAI

2 middelslag-tamaties, elk in agtstes gesny en ontpit

3 avokado’s, geskil en in dun halfmaanrepies gesny sout en peper na smaak

suurlemoensap

200 g groot steurgarnale, ontdop en dermpie verwyder, maar behou stertjie

roketblare

  1. KOLJANDEROLIE Rooster die koljandersaad en brandrissievlokkies in ’n droë pan oor matige hitte tot geurig.
  2. Voeg die olie by en verhit tot warm.
  3. Verwyder van die hitte en laat staan tot koud. Dreineer deur ’n fyn sif of kaasdoek. Hou die gegeurde olie eenkant.
  4. SLAAISOUS Giet die water in ’n kastrol, voeg die suiker by en roer tot opgelos.
  5. Voeg die suurlemoensap en skil by, bring tot kookpunt en kook sowat 7 minute tot effe stroperig, maar nie dik nie. Laat afkoel.
  6. Voeg die komkommer, soetrissie en koljanderblare by die sous en hou eenkant.
  7. SLAAI Geur die tamaties en avokado met sout en peper en giet ’n bietjie suurlemoensap oor om te keer dat dit verkleur.
  8. Verhit ’n bietjie van die gegeurde olie en roerbraai die garnale 6 minute daarin tot dit net-net pienk verkleur. Dreineer die garnale op ’n papierhanddoek.
  9. Rangskik roketblare, stukke tamatie en avokado op kleinbordjies, plaas 2-3 garnale bo-op en rond af met ’n skep slaaisous.