Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

Genoeg vir 6 mense

KOLJANDEROLIE

30 ml (2 e) koljandersaad

20 ml (4 t) brandrissievlokkies

500 ml (2 k) goeie olyfolie

SLAAISOUS

125 ml (½ k) water

125 ml (½ k) suiker

1 suurlemoen se sap en skil

½  komkommer, pitjies verwyder en in klein blokkies gesny

1 rooi soetrissie, in die oond gerooster, die skil afgetrek en in klein blokkies gesny

20 ml (4 e) vars koljanderblare, gekap

SLAAI

2 middelslag-tamaties, elk in agtstes gesny en ontpit

3 avokado’s, geskil en in dun halfmaanrepies gesny

sout en peper na smaak

suurlemoensap

200 g groot steurgarnale, ontdop en dermpie verwyder, maar behou stertjie

roketblare

KOLJANDEROLIE 

Rooster die koljandersaad en brandrissie vlokkies in ’n droë pan oor matige hitte tot geurig.

Voeg die olie by en verhit tot warm.

Verwyder van die hitte en laat staan tot koud.

Dreineer deur ’n fyn sif of kaasdoek.

Hou die gegeurde olie eenkant.

SLAAISOUS

Giet die water in ’n kastrol, voeg die suiker by en roer tot opgelos.

Voeg die suurlemoensap en skil by, bring tot kookpunt en kook tot effe stroperig, maar nie dik nie (sowat 7 minute).

Laat afkoel.

Voeg die komkommer, soetrissie en koljanderblare by die sous en hou eenkant.

SLAAI

Geur die tamaties en avokado met sout en peper en giet ’n bietjie suurlemoensap oor om te keer dat dit verkleur.

Verhit ’n bietjie van die gegeurde olie en roerbraai die garnale 6 minute daarin tot dit net-net pienk verkleur.

Dreineer die garnale op ’n papierhanddoek.

OPDIENING

Rangskik ’n paar roketblare, stukke tamatie en avokado op kleinbordjies, plaas 2-3 garnale bo-op en rond af met ’n goeie skep slaaisous.