Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 10 min.

sout en peper

250 g fusillipasta

45 ml (3 e) olyfolie

3 knoffelhuisies

250 g kersietamaties, gehalveer of in kwarte gesny

’n hand vol vars basilie

150 g mozzarella, in blokkies gesny

  1. Bring ’n groot pot gesoute water oor hoë hitte tot kookpunt. Voeg die pasta by en kook terwyl jy af en toe roer tot net gaar en steeds ferm as jy daarop byt – sowat 10 minute. Dreineer,  hou 125 ml (½ k) van die kookvloeistof en verplaas na ’n groot bak.
  2. Verhit die olyfolie in ’n middelslag braaipan oor matige hitte. Voeg die knoffel by en soteer 2 minute of tot geurig. Voeg die tamaties by en geur met sout en peper. Kook tot die tamaties versag het en maak hulle dan effens fyn met ’n vurk.
  3. Verplaas die tamaties na die bak met die pasta. Meng. Voeg die basilieblare en blokkies kaas by. Roer om te meng. Voeg die orige pastawater 30 ml (2 e) op ’n slag by tot die pasta vogtig is.