Stoom die hoender, gebruik poppadoms pleks van croutons, maak slaaisous van natuurlike jogurt pleks van mayonnaise en jy het ’n slaai met heelwat minder kilojoules.

Genoeg vir 6 mense

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 7 minute

SLAAISOUS

250 ml (1 k) natuurlike jogurt

30-45 ml (2-3 e) laevet-mayonnaise

2 knoffelhuisies, fyngedruk

30 ml (2 e) suurlemoensap

sout en peper na smaak

1 reep laevet-rugspek, in die

mikrogolf gebraai

HOENDER

4 hoenderborsfilette

sap en skil van 1-2 suurlemoene

2-3 knoffelhuisies, fyngedruk

30 ml (2 e) olyfolie

SLAAI

200 g cos-slaaiblare

1 komkommer, in lang, dun repe gesny met ’n aartappelskiller

2-3 saad-poppadoms, 1-2 minute in mikrogolfoond gepof

25 g parmesaankaasskaafsels

  1. Slaaisous Meng al die bestanddele. Hou eenkant.
  2. Hoender Kap die hoenderfilette effens platter; geur met sout en peper.
  3. Meng die suurlemoen, knoffel en olyfolie en giet oor die hoender. Marineer 10 minute. Stoom sowat 5 minute tot gaar. Sny in repe.
  4. Slaai Pak die slaaiblare en komkommerrepe in ’n slaaibak, skep die hoender op en skep die slaaisous oor.
  5. Breek die poppadoms in growwe stukke, sprinkel oor en sprinkel kaasskaafsels oor.