Eet vir Volgehoue Energie 4 is Gabi Steenkamp en Liesbet Delport se resepte wat leefstylsiektes soos diabetes help beheer.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15-20 minute

Gaarmaaktyd: 45 minute

GROENTE

1 middelslag-botterskorsie (600 g), geskil, ontpit en in dun skywe gesny

1 rooi soetrissie, ontpit en in breë repe gesny

SOUS

30 ml (2 e) olyf- of canola-olie

30 ml (2 e) vars uitgedrukte suurlemoensap of sap van 1 klein suurlemoen

60 ml (¼ k) kookwater

5 ml (1 t) fyn paprika

5 ml (1 t) fyn komyn

2 ml (½ t) fyn koljandersaad

1 ml (¼ t) fyn kaneel

5 ml (1 t) bruinsuiker

5 ml (1 t) suurlemoenskil, gerasper

30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap

45 ml (3 e) vars koljanderblare, gekap

10 ml (2 t) vars kruisementblare, gekap

80 g slaai- en babaspinasieblare, gewas

2 ml (½ t) sout

vars gemaalde swartpeper na smaak

Voorverhit die oond tot 200 ºC.

GROENTE

Plaas die gesnyde botterskorsie en soetrissie in ’n groot oondbraaipan en sit opsy terwyl jy die sous maak.

SOUS

Meng die olie met die suurlemoensap, water en al die speserye in ’n glasbak of maatbeker.

Voeg die suiker en suurlemoenskil by.

Giet die sous oor die botterskorsie en soetrissie en meng deeglik om die groente oraloor met die sous te bedek.

Plaas in die oond en rooster 45 minute.

Bedek die bak met tinfoelie vir die eerste 20 minute, en rooster die oorblywende 25 minute onbedek.

Voeg die gekapte vars kruie by en meng net voor dit voorgesit word.

Rangskik die slaai- en babaspinasieblare op ’n groot opdienbord of op ses aparte borde, en rangskik die warm botterskorsie en soetrissie op die blare.

Geur met die sout en peper en sit voor as een van die groentesoorte van enige maaltyd.

DIEETKUNDIGE AANTEKENINGE

• Dié gereg kan ook as ’n ligte maaltyd voorgesit word, solank jy ’n porsie stysel en proteïen byvoeg, byvoorbeeld een of twee snye lae-GI-brood en ’n vuurhoutjiedosie-grootte laevetkaas of 3-6 Pro-Vitas en 30 g kouevleisrepies.

• Paprika, komyn, koljander en kaneel is tipiese Afrika-speserye. Die vars koljanderblare, pietersielie en kruisement word hier gebruik vir ’n geurige slaai.

• Maak ’n vegetariese weergawe deur 1 blik (410 g) keker-ertjies (gedreineer) 10 minute voor die einde van die kooktyd by die botterskorsie en soetrissie te voeg.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 14 April 2010.