Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 20 minute

SLAAI

700 g baba-aartappels

2 speseryworsies (chorizo of enige geurige wors)

45 ml (3 e) olyfolie

100 g babamielies, in stukke gesny

250 g kersietamaties, gehalveer

250 g pitlose rooidruiwe, gehalveer

400 g kekerertjies, gedreineer en afgespoel

150 g (2 wiele) fetakaas, in stukke gesny

15-20 ml (3-4 t) vars roosmarynblare, grof gekap

SLAAISOUS

125 ml (½ k) kruisementblare, fyn gekap

125 ml (½ k) pietersielie, fyngekap

30 ml (2 e) heelkorrelmosterd

15 ml (1 e) balsemieke asyn

sout en peper

  1. SLAAI Kook die aartappels met die skil aan tot gaar, laat afkoel en halveer elke aartappel.
  2. Sny die worsies in dun skywe. Verhit ’n bietjie van die olie en braai die skywe tot bros. Laat dit afkoel.
  3. Meng die aartappels en die worsies met die res van die slaaibestanddele en skep dit in ’n groot opdienbak.
  4. SLAAISOUS Meng al die slaaisousbestanddele met die res van die olyfolie en bedruip die slaai daarmee.