Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 8-10 minute

Genoeg vir 4 mense

4 witvisfilette (stokvis of koningklip)

sout, peper en suurlemoensap na smaak

8 groot stukke gerookte maer ham, dun gesny (sien wenk)

12 vars basilieblare

8 groenolywe, ontpit en gesny

45 ml (3 e) olyfolie

VISPAKKIES

Voorverhit die oond tot 190 °C.

Geur die vis met sout, peper en suurlemoensap.

Lê die ham op die werkoppervlak neer en pak ’n paar basilieblare en stukke groenolywe bo-op.

Sit die vis bo-op neer en vou dit in die ham toe.

Sit in ’n oondbak, bedruip met olyfolie en sprinkel nog olyfstukke oor.

Bak 8-10 minute tot die vis wit is en maklik gevlok kan word.

Sit voor met blomkoolpuree (resep hieronder), ekstra basilieblare en slaai met tamatie en komkommer.

BLOMKOOLPUREE 

Kook vier porsies blomkool in soutwater sag.

Dreineer goed en druk fyn met 10 ml botter en 10 ml olyfolie.

Geur na smaak met sout, peper en neutmuskaat.

WENK: Gebruik gerookte maer ham pleks van die gebruiklike spek, en bak die vis in die oond eerder as in ’n pan met olie.