Hierdie resep kom uit Jan Braai se tweede resepteboek, Vuurwarm.  As jy egter eers die resep baasgeraak het, sal jou oorskiet waarskynlik heeltemal te gou opraak en sal jy vis van meet af aan moet braai om jou viskoekie-lus te bevredig WAT JY NODIG HET

  • (vir 6 mense)
  • 1 kg gebraaide/gaar stokvis of ‘n ander witvis (sowat 2 koppies vis, ontbeen en gevlok)
  • 2 koppies witbroodkrummels
  • 1 ui (afgeskil en gerasper)
  • 1 tamatie (pitte uitgehaal, en gerasper)
  • 1 sopie pietersielie (fyngekap)
  • 1 sopie vars koljander (fyngekap)
  • 1 sopie vars dille (fyngekap)
  • 1 eier (effens geklits)
  • 1 teelepel sout (minder as jy jou vis al op die kole gesout het)
  • ’n teelepel swartpeper
  • 2 sopies plantolie (om in te braai)
  • vars suurlemoenskyfies (om mee saam te bedien)
  • mayonnaise (om mee saam te bedien)
LAAT WAAI!
  1. As jy rou vis gebruik, maak dit eers gaar. Die maklikste is om dit gou oor warm kole te braai, of in ‘n bietjie olie in ‘n pan. Dit behoort nie langer as 15 minute te neem nie.
  2. Breek nou die gaar vis in vlokkies op met jou skoon hande (maak doodseker jy haal al die grate uit) en sit dit saam met die ander bestanddele (behalwe die olie en suurlemoenskyfies) in ‘n mengbak. Meng deeglik.
  3. Rol die mengsel in porsies so groot soos gholfballe, druk elke bolletjie effens plat en pak die hele klomp op ‘n skinkbord. As jy wil verhoed dat jou skinkbord na die tyd soos vis ruik, voer hom uit met ’n vel bakpapier. Verhit die olie in ‘n groot platboompotjie of vuurvaste pan oor medium-tot-warm kole.
  4. Braai die viskoekies in sarsies aan albei kante, draai hulle net een keer om. Hulle is reg wanneer hulle goudbruin aan albei kante is. Dit behoort so 5 tot 8 minute te neem. Om viskoekies gaar te maak is glad nie moeilik nie. Trouens, dié takie kan jy maklik uitdeel aan iemand om die vuur wat vra: ‘Hoe kan ek help?’
  5. Soos wat jy die viskoekies uit die pan haal, sit jy hulle op ‘n paar velle kombuispapier neer om die oortollige olie te absorbeer. Skep dan op. Bedien met mayonnaise, suurlemoenskyfies en ‘n vars groen slaai.

WENKE

Jy kan enige eetbare vis vir die resep gebruik. Die vis wat jy kies sal natuurlik die viskoekies se smaak bepaal. Stokvis werk lekker, maar as jy luuks voel, gebruik salm of forel. As jy op ‘n kamptoer in midde-Afrika is, is tuna uit ‘n blikkie die antwoord.

Meer oor Vuurwarm

In sy tweede boek, Vuurwarm gaan Jan Braai verder as algemene raad oor vuurmaak en die braai van steak, tjops, hoender en wors: Hy daag lesers uit om ook sy heerlike kerrie-potjies, pannekoek, hoender-mayonnaise broodjies, malvapoeding en appeltert op ’n oop vuur te probeer! Vuurwarm spog ook met maklike instruksies, volkleur foto’s en Jan se kenmerkende braaihumor. Dié pragboek is gepak met meer as 80 lusmaak-resepte, wat alle braaiers – van beginners tot dié wat wéét – sal inspireer om vriende en familie te nooi vir smulkos en samesyn.

JanBraaiVuurwarm