Voedingkundiges wil hê ons moet minstens een maal ‘n week vis eet. Omdat dit so lekker vinnig gaar raak, kan mens gerus ‘n bredie daarvan kook. Jy ken mos gort in sop; beproef dit ‘n slag in die bredie wat amper soos ‘n dik sop is.  Omdat die stysel sommer alreeds in die bredie ingemeng is, hoef jy nie nog enigiets by gaar te maak nie, maar ‘n snytjie vars korserige brood, wat jy sommer by die bakery koop op pad huis toe, gaan nogal lekker hierby smaak.

Genoeg vir 6 mense

Weektyd: 15 min

Bereiding: 15 min

Gaarmaaktyd: 30 min

1 pak (600 g) stokvisfilette, ontvel en in blokkies gesny

250 g bevrore ontdopte steurgarnale (opsioneel)

500 g bevrore calamaristeaks, in repe gesny

sout en vars gemaalde swartpeper

75 ml olyfolie

2 uie, dun gesny

4 knoffelhuisies, fyn gedruk

1 rooi soetrissie, ontkern

en in blokkies gesny

4 ryp tamaties, ontvel en gekap

125-250 ml (½-1 k) witwyn

250 ml (1 k) gort, geweek

1 rooi brandrissie, ontpit en gekap

45 ml (3 e) gekapte pietersielie

Geur die vis en seekos ligweg met sout en peper. Verkoel tot benodig. Giet die olie in ’n pan en roerbraai die ui, knoffel en soetrissie tot sag. Voeg die tamatie by en roerbraai effens. Voeg die wyn by, asook die gort en brandrissie. Voeg sowat 750 ml (3 k) water by en laat prut tot die gort gaar en die sous geurig is.

Voeg nog water by soos benodig – dit moet souserig wees. Geur met sout, peper en pietersielie. Braai intussen die vis en seekos bietjies op ’n slag in ’n klein bietjie olie tot effe bruin. Voeg by die gortbredie en laat prut tot die vis net gaar is – dit neem nie lank nie, hoogstens so 15 minute.

Sit voor met vars plaasbrood.