GENOEG VIR 6 MENSE

Bereiding: 15-20 min.

Bak: 35 min.

500 g stokvis of enige ander witvis, gaar gestoom

1 dik sny witbrood

200 ml melk

60 ml (¼ k) botter

1 groot ui, grof gekap

sap van 1 suurlemoen

15 ml (1 e) kerriepoeier

30 ml (2 e) rosyntjies

30 ml (2 e) amandelsplinters

5 ml (1 t) sout

gemaalde peper

2 groot eiers

2 lourier- of suurlemoenblare

Voorverhit die oond tot 190 °C. Smeer ’n oondvaste bak.

  1. Vlok die gaar vis. Week die brood in die melk.
  2. Verhit die botter en soteer die ui 5 min. Voeg die suurlemoensap, kerriepoeier, rosyntjies, amandels, sout en peper by en verhit 1 min. Voeg die vis by.
  3. Druk die melk uit die brood en behou dit. Voeg die brood by die vismengsel.
  4. Klits die eiers en voeg die gereserveerde melk by.
  5. Skep die vismengsel in die bereide bak. Giet die eiermengsel oor en druk die lourier- of suurlemoenblare in. Bak 35 min. of tot die eiervla gestol het.
  6. Sit voor met ’n tamatie-en-ui-sambal en blatjang.