Die bierbeslag is heerlik lig en bros. Dis sekerlik die maklikste beslag wat jy vir smullekker vis kan maak. En die aartappels proe hemels.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 5 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

BESLAG

250 ml (1 k) bruismeel

knippie sout

250 ml (1 k) yskoue lagerbier

VIS

olie vir diepvetbraai

6 bevrore stokvisfilette, vel verwyder terwyl nog bevrore

sout en peper na smaak

ekstra meel vir oorsprinkel

1-2 suurlemoene, in wiggies gesny vir opdiening

AARTAPPELWIGGIES

4-6 groot aartappels

sout

olie

BESLAG 

Meng die meel en sout in ’n groot mengbak.

Voeg driekwart van die bier by en dan net genoeg om ’n drupbeslag te maak wat soos room lyk.

Verkoel tot benodig.

VIS 

Verhit genoeg olie in die pan vir diepvetbraai.

Geur die vis met sout en peper en bestuif met ekstra meel.

Doop in die bierbeslag, laat goed afdrup en plaas in die verhitte olie.

Braai 2 minute, draai om en braai tot goudbruin en gaar.

Hou warm en herhaal met die orige filette.

Sit voor met oondgebakte aartappelwiggies en suurlemoen.

AARTAPPELWIGGIES 

Skrop die aartappels goed, sny in wiggies en plaas in ’n oondpan.

Sprinkel sout oor en besprinkle goed met olie.

Bak by 200 °C tot gaar en goudbruin.

Draai ’n paar keer tydens die gaarmaakproses om met ’n eierspaan.