LEWER 1 TERT VAN 23 CM

Bereiding: 25 minute

Baktyd: 55 minute

KORS

1 rol (400 g) broskorsdeeg

VULSEL

30 ml (2 e) olyfolie

2 preie, gewas en in skyfies gesny

250 g botterskorsie, in blokkies gesny en gaar gestoom

5 ml (1 t) droë gemengde kruie

60 ml (¼ k) cheddarkaas, gerasper

2 blikke (170 g) tuna, gedreineer

6 eiers

125 ml (½ k) room

sout en peper na smaak

30 ml (2 e) parmesaankaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n tertbak van 23 cm.

  1. KORS Voer die tertbak met die deeg uit en bak 10 minute blind.
  2. Verwyder die papier en bak 5 minute oop tot deurgaar.
  3. VULSEL Verhit die olie en braai die preie 5 minute oor matige hitte.
  4. Voeg die botterskorsie en kruie by en meng goed.
  5. Sprinkel die kaas oor die tertkors en skep die botterskorsiemengsel en tuna daarop.
  6. Meng die eiers, room, sout en peper en giet oor die vulsel.
  7. Besprinkel met parmesaankaas en bak 35-40 minute tot gestol.