Ons het hulle in ’n foeliepakkie gaargemaak en ’n heerlike sousie met Oosterse geure van brandrissie, lemmetjie, suurlemoengras en koljander bygevoeg.

2 stingels suurlemoengras, in 5 cm-stukke gesny

2 knoffelhuisies, gekneus

2 rooi brandrissies, ontpit en fyngekap

60 ml lemmetjiesap

10 ml vissous

60 ml water

10 ml strooisuiker

swaar bladtinfoelie

28 swartmossels (850 g), geskrop en baard verwyder

60 ml grof gekapte, vars koljanderblare

Verhit die suurlemoengras, knoffel, brandrissies, lemmetjiesap, vissous, water en suiker in ’n kastrol oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos het.

Smeer 4 groot dubbellaagvierkante swaar tinfoelie met botter en verdeel die mossels daartussen.

Vou die foelie om bakkies te vorm en sit dit op die rooster oor matige kole.

Verdeel die kokende vloeistof tussen die pakkies en vou dit toe om dit te verseël.

Laat genoeg plek vir die mossels om oop te gaan terwyl hulle gaar word.

Skud die pakkies af en toe versigtig om die geurmiddels en mosselsap te meng.

Haal die pakkies van die kole af sodra die mossels oopgaan (10 –12 minute).

Verwyder enige mossels wat nie oopgegaan het nie.

Sit dit voor saam met brood met ’n bros korsie om die smulsous mee op te vee en sprinkel die koljanderblare oor.

WENK: Vars mossels moet nog lewe as jy hulle gaarmaak.

Gooi enige oop mossels weg wat nie toemaak as dit liggies met ’n mes gekap word nie.