Lewer 6-8 klein tertjies

Bereidingstyd: 20-25 minute

Verkoeltyd: minstens 1 uur

Baktyd: 30-40 minute

KORS

375 ml (1½ k) koekmeel

1 ml (¼ t) sout

125 g yskoue botter, in blokkies

125 ml (½ k) gerasperde sterk cheddarkaas

’n knippie rooipeper

1 eiergeel, liggies geklits

5 ml (1 t) suurlemoensap

20 ml (4 t) yswater

VULSEL

2 uie

15 ml (1 e) olie

1 kg gerookte skelvis

’n knippie peri-peri-speserye

2 hard gekookte eiers, gekap

125 ml (½ k) gerasperde cheddarkaas

EIERVLA

250 g geroomde maaskaas

125 ml (½ k) melk

4 eiers

sout en peper

  1. Kors Plaas die meel en sout in ’n voedselverwerker en voeg die botter, kaas en rooipeper by. Pols tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk.
  2. Meng die eiergeel, sap en yswater, voeg by die meelmengsel en verwerk tot die deeg net begin bind. Keer uit op ’n meelbestrooide werkoppervlak en druk in ’n bol.
  3. Bedek met kleefplastiek en verkoel minstens ’n uur. Haal uit die yskas en laat staan ’n rukkie teen kamertemperatuur. Rol uit en voer tertpannetjies met die deeg uit. Prik en bak 10-15 minute blind.
  4. Vulsel Braai die uie in die olie. Voeg die vis by; breek effens met ’n houtlepel. Roerbraai en geur met die peri-peri. Verdeel tussen die tertjies. Pak eierstukkies op. Sprinkel die kaas oor.
  5. Eiervla Klits alles, giet oor die tertjies en geur met die sout en peper. Bak 15-20 minute.