Die resep het ontstaan toe die kinders van Ingrid Petersen van Kensington, Kaapstad, nog klein was. Hulle wou ook piekelvis eet, maar het met die grate gesukkel. Sy het toe besluit om die grate te verwyder en eerder viskoekies te maak en dit in die kerriepiekelmengsel in te lê. Haar kinders is nou almal groot, maar geniet steeds haar spesiale viskoekies.

LEWER 16 KOEKIES

Bereiding: 20 min.

Verkoeling: 30 min.

Gaarmaak: 15 min.

VISKOEKIES

500 g stokvisfilette

500 g skelvisfilette

sout en peper

2 uie, baie fyn gekap

2-3 eiers

30 g pietersielie, fyn gekap

10 ml (2 t) witpeper

2 ml (½ t) sout

100 ml vars broodkrummels

olie vir braai

PIEKEL-UIE

6 uie, in ringe gesny

3 lourierblare

250 ml (1 k) water

15-20 ml (3-4 t) olyfolie

2 knoffelhuisies

15 ml (1 e) blaarmasala

10 ml (2 t) garam masala

10 ml (2 t) koljandermasala

5 ml (1 t) geroosterde masala

5 ml (1 t) borrie

750 ml-1 L (3-4 k) bruinasyn

750 ml-1 L (3-4 k) suiker

  1. Viskoekies Plaas die visfilette in ’n kastrol, geur met die sout en peper en verhit 10 min. of tot gaar. Dreineer, laat afkoel en vlok.
  2. Meng die vis met die oorblywende bestanddele en vorm in koekies. Verkoel minstens 30 min.
  3. Verhit genoeg olie vir vlakbraai en braai die viskoekies tot weerskante goudkleurig. Dreineer op handdoekpapier.
  4. Piekel-uie Plaas die uie en lourierblare in ’n diep kastrol en voeg die water by. Laat prut tot al die
  5. water verdamp het.
  6. Voeg die olie, knoffel en die masalas en borrie by, roerbraai ’n minuut en gooi die asyn in. Voeg die suiker by en roer tot opgelos. Laat prut 5 min. oor lae hitte.
  7. Plaas die viskoekies in ’n diep bak en giet die piekel-uie oor. Sit voor met brood of Paasbolletjies.