As jong seun het ek al saam met my ma, Lynne, gekook, want my ouer suster het nie eintlik belanggestel nie. Ma het my laat skil, kap en geur en kort voor lank het sy my gelos om my eie ding te doen. Toe ek so 16 was, het ’n ou vriendin van my ma Spanje toe verhuis en ’n paellaresep vir haar gestuur. Ek weet nie hoe tradisioneel dit is nie, maar ons gebruik dit sedertdien.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15-20 minute

Gaarmaaktyd: 30-40 minute

30 ml (2 e) olyfolie

1 ui, fyn gekap

3 knoffelhuisies, fyn gekap

100 g chorizo-worsies, in skywe gesny

1 rooi soetrissie, ontvel en in blokkies gesny

250 ml (1 k) risottorys

250 ml (1 k) droë witwyn

2 drade saffraan of 2 ml (½ t) paprika

1 liter (4 k) hoenderaftreksel

500 g steurgarnale, koppe verwyder en skoongemaak

250 g mosselvleis

125 ml (½ k) ertjies

sout en peper

tiemietakkies vir garnering

ekstra suurlemoenwiggies vir garnering

Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die uie, knoffel en chorizo-worsies tot goudbruin.

Voeg die soetrissies by en braai ’n minuut.

Voeg die rys by en roer tot al die ryskorrels met olie bedek is.

Meng die wyn, saffraan of paprika en aftreksel en voeg by die rys.

Roer tot alles gemeng is. Verlaag die hitte en laat prut tot die rys gaar is en die meeste van die vloeistof weggekook het.

Voeg die steurgarnale en mossels by en verhit tot die seekos gaar is. (Bedek die pan met foelie sodat die seekos vinniger kan gaar word.)

Voeg die ertjies by en geur indien nodig.

Garneer met tiemietakkies en sit voor saam met brood en suurlemoenwiggies.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 6 Mei 2010.