Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

30 ml (2 e) sesam- of grondboon-olie

15 ml (1 e) vars gemmerwortel, gerasper

2 groot knoffelhuisies, gekneus

1 rooi brandrissie, fyn gekap

2 stingels suurlemoengras, buitenste harde dele verwyder en fyngekap

60 ml (¼ k) vars koljanderblare, fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

1 L (4 k) hoenderaftreksel

200 g bevrore mossels, sonder dop

200 g bevrore calamariringe

400 ml klappermelk

250 g dun eiernoedels

ekstra vars koljanderblare vir garnering

Verhit die olie in ’n groot kastrol en braai die gemmer, knoffel, brandrissie, suurlemoengras en koljanderblare ’n paar minute.

Geur met sout en peper. Giet die aftreksel by en bring tot kookpunt.

Voeg die mossels, calamari en klappermelk by die aftreksel, verlaag die hitte en bring weer stadig tot kookpunt.

Geur na smaak.

Kook intussen die eiernoedels gaar en verdeel dit tussen die sopbakkies.

Giet die sop oor die noedels, garneer met ekstra koljanderblare en sit voor.

Het jy geweet? Laksa, ’n Oosterse vissop, kom oorspronklik uit die suidooste van Asië en beteken “tienduisend” omdat dit so ’n groot verskeidenheid bestanddele inkry.