50 ml olyfolie

200 g chorizo- of Russiese worsies, in skyfies gesny

500 g ontbeende hoenderboudjies

2 uie, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

1 rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny

5 ml vars tiemieblare

1 rooi brandrissie, ontpit en fyngekap

350 ml witrys

5 ml gerookte paprika

100 ml witwyn

1 ml saffraandrade, geweek in ± 1 L hoenderaftreksel

4 groot tamaties, geskil, ontpit en in blokkies gesny

100 g vars of bevrore ertjies

sout en vars gemaalde swartpeper

200 g afgedopte, bevrore steurgarnale of seekosmengsel

25 ml botter

12 – 14 bevrore steurgarnale in doppe, gewas (opsioneel)

15 ml suurlemoensap

12 – 14 vars mossels in hul skulp, geskrop, of bevrore mossels in die skulp

30 ml gekapte, vars Italiaanse pietersielie

12 ontpitte swartolywe vir garnering

Verhit die olyfolie in ’n paellapan of swaarboomkastrol en braai die worsies en hoender tot bruin.

Skep dit uit met ’n gaatjieslepel.

Voeg die uie, knoffel en soetrissie by in dieselfde pan en soteer tot sag.

Voeg die tiemie, brandrissie en rys by en roer tot die ryskorrels met die olie bedek is.

Voeg die paprika en 80 ml van die wyn by.

Voeg die saffraanaftreksel by sodra dit begin kook.

Roer liggies,  voeg die gebraaide worsies en hoender by en laat prut tot die meeste van die vloeistof geabsorbeer is.

Roer die tamaties en ertjies by en geur met sout en peper.

Laat nog 10 minute prut.

Skep die afgedopte steurgarnale of seekosmengsel bo-op en stoom 6 minute of tot gaar.

Roer die mengsel liggies sodat die geure kan vermeng.

Verhit die botter in ’n aparte pan en braai die steurgarnale ’n paar minute tot dit effens pienk verkleur, sprinkel die suurlemoensap oor en skep dit met ’n gaatjieslepel uit op die paella.

Voeg die res van die wyn in die pan by en stoom die mossels net tot dit oopgaan. (Gooi die mossels weg wat nie oopgaan nie.)

Skep die mossels ook op die paella.

Sprinkel die pietersielie en olywe oor en sit dadelik met ’n vars groen slaai voor.

WENK: Na gelang van die geleentheid kan jy dit spoggerig of minder spoggerig maak deur steurgarnale in die dop by te voeg of nie. Wat ons resep so besonders maak, is die chorizoworsies, saffraan en gerookte paprika, maar dit kan ook deur Russiese worsies, borrie of gewone paprika vervang word. Onthou net dat jy dan smaak sal inboet.