Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 30-40 minute

1 L (4 k) hoenderaftreksel

500 ml (2 k) droë witwyn

250 ml (1 k) olyfolie

2 vars lourierblare

1 ui, grof gekap

4 knoffelhuisies, grof gekap

2 wortels, skoongeskraap en in

skywe gesny

3 selderystingels, grof gekap

4 aartappels, geskil en in blokke gesny

4 ryp tamaties, ontvel en in blokkies gesny

250 ml (1 k) fyn gekapte Italiaanse pietersielie

gerasperde skil en sap van 2 groot suurlemoene

sout en vars gemaalde swartpeper

400 g klein steurgarnale (skoongemaak)

400 g mossels met skulpe

600 g witvisfilette, in stukke gesny

pietersielie vir garnering

Bring die aftreksel, wyn en olyfolie tot kookpunt en voeg die lourierblare, ui, knoffel, wortels, seldery, aartappels, tamaties, pietersielie, suurlemoensap en -skil by die vloeistof.

Laat prut sowat 20 minute en geur met sout en peper indien nodig.

Voeg die steurgarnale, mossels en vis by en laat prut nog sowat 15 minute. (Verwyder enige mossels wat nie oopgegaan het nie.)

Garneer met pietersielie.

WENK: Vervang die hoenderaftreksel met visaftreksel. Maak dit self: Gebruik die grate en kop van die vis, meng dit met vars suurlemoenskil en -sap, gekapte uie, knoffel, Italiaanse pietersielie, wortels, seldery, sout en peper en kook dit omtrent ’n uur in 2 liter water.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 20 Mei 2010.