Voorbereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 20-35 minute

Genoeg vir 4-6 mense

VIS

1 snoek, skoongeskraap en gevlek, of 2 jakopewers, skoongeskraap, kieue en maagdeel verwyder

suurlemoensout (sout gegeur met gerasperde suurlemoenskil)

olyfolie waarby knoffelhuisies gevoeg is

DROËPEERMARMELADE

1 klein ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyn gedruk

80 ml rooiwynasyn

100 g (250 ml) droëpere, in repe gesny

125 ml (½ k) rooibostee

60-80 ml suiker

2 takkies vars roosmaryn

2 lourierblare

VIS

Vryf die vis binne en buite in met die suurlemoensout en hou sowat ’n uur in die yskas.

Plaas ’n paar suurlemoenskyfies in die maagholte as jy die jakopewers gebruik.

MARMELADE

Plaas die bestanddele in ’n kastrolletjie en kook vinnig tot die meeste vloeistof verdamp het en die pere sag is.

Verwyder die kruietakkies.

Hou eenkant.

OONDBRAAI

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Plaas die heel vis op ’n gesmeerde bakplaat en besprinkel goed met knoffelolie.

Oondbraai 20-35 minute of tot net gaar.

BRAAI IN ’N PAN

Sny die vis in mote, verhit ’n riffelpan tot goed warm en verf sowat 2-3 minute met olie alkante tot net gaar.

Drup knoffelolie oor terwyl jy braai.

BRAAI OP DIE KOLE

Plaas die heel vis met velkant na onder op ’n gesmeerde, warm rooster en braai hoog bo die kole tot gaar.

Drup gereeld van die olie oor.

Sit voor met die marmelade en fynpatat.

Volg Huisgenoot op Twitter.