FORELFILETTE

WENK: Die posjeervloeistof moet nooit te warm wees nie, want dan sal die vis ‘‘hard’’ word. ’n Delikate vis soos forel wat met ’n geurige ratatouille gekombineer word, skep ’n sterk geurkontras wat in ag geneem moet word wanneer jy ’n geskikte wyn soek.

Posjeervloeistof (aftreksel)

1 L water

1 suurlemoen, gehalveer

1 ui, in kwarte gesny

2 selderystingels, gesny

2 wortels, gesny

1 lourierblaar

1 takkie vars tiemie

4 forelfilette

Sit al die aftrekselbestanddele in die water, bedek en verhit tot dit stadig prut.

Sit die forelfilette bo-op, bedek en skakel die plaat af.

Laat rus in die aftreksel tot ’n paar minute voor opdiening.

Die forel moet net-net gaar wees.

RATATOUILLE

50 ml olyfolie

1 medium ui, gesny

1 rooi soetrissie, in repe gesny

1 groen soetrissie, in repe gesny

2 murgpampoentjies, in stukke gesny

1 klein eiervrug, in klein blokkies gesny

100 ml tamatiepuree

’n paar swartolywe

Verhit die olie in ’n groot pan.

Voeg al die ratatouillebestanddele behalwe die tamatiepuree en olywe by.

Soteer sowat 2 minute.

Giet die tamatiepuree by en laat nog 5 minute prut.

Maak seker dat die groente nie stukkend kook nie.

Voeg die olywe by en geur na smaak met sout en peper.

WYN

Die suur van die tamaties sal enige rooiwyn oorskadu. Hoewel die geur van die vis baie subtiel is, gee die groente meer tekstuur en gewig daaraan.

Dit sal goed gekomplementeer word deur ’n medium tot volronde chardonnay.

Volg Huisgenoot op Twitter.