Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 30 min.

Marineer: 2 dae

500 g stokvisfilette

sout en swartpeper

30 ml (2 e) olie

1 ui, in skywe gesny

5 ml (1 t) matige kerriepoeier

5 ml (1 t) borrie

2 ml (½ t) fyn gemmer

2 ml (½ t) fyn koljander

2 lourierblare

80 ml (? k) witwynasyn

80 ml (? k) water

30 ml (2 e) ligbruin suiker

10 ml (2 t) mielieblom

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Geur die vis liggies met sout en peper en bak dan ’n kwartier of tot deurgaar op ’n rak in ’n roosterpan. Sny in kleiner porsies.
  3. Verhit die olie in ’n pan en braai die uieskywe tot dit begin versag. Voeg die kerriepoeier, borrie, gemmer, koljander en lourierblare by en roer om die uie met die speserye te bedek.
  4. Voeg die asyn en water by en bring tot by kookpunt. Voeg die suiker by en roer tot opgelos. Geur met sout en peper.
  5. Meng die mielieblom en ’n bietjie water tot ’n pasta en roer in die sous in. Laat prut liggies terwyl jy roer tot die sous verdik het.
  6. Laat die sous afkoel. Pak die vis in lae in ’n lugdigte houer en bedek elke laag met sous. Verseël en marineer twee dae voor jy dit voorsit.