Gebruik polenta pleks van meel vir ’n bros bolaag en bederf jou gesin met hierdie vis met ’n kinkel.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 15 min.

Tartaarse sous

125 ml (½ k) mayonnaise

2 agurkies, fyn gekap

’n hand vol pietersielie, gekap

sout en peper

Vis

250 ml (1 k) polenta

5 ml (1 t) knoffelpoeier

1 eier

6 stokvisfilette

olie vir panbraai

oondgebakte aartappelskyfies, vir voorsit

  1. Tartaarse sous Plaas die mayonnaise, agurkies en pietersielie in ’n klein bak. Geur met die sout en peper. Roer tot goed gemeng. Sit in die yskas.
  2. Vis Meng die polenta en knoffelpoeier op ’n bord. Geur met die sout en peper. Klits die eier in ’n vlak bak.
  3. Doop ’n stuk vis in die eier. Bedek dit met die polentamengsel en sit op ’n bord. Herhaal met die oorblywende vis, eier en polentamengsel.
  4. Verhit die olie in ’n diep braaipan oor matig-hoë hitte. Braai die vis in twee sarsies 3 min. of tot goudbruin aan albei kante en deurgaar.
  5. Voeg nog olie by indien nodig.
  6. Plaas die vis op ’n bord wat met papierhanddoek uitgevoer is. Sit voor saam met Tartaarse sous en aartappelskyfies.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan