Pleks van vis in die pan bak, druk ons dit in die oond – veel minder moeite. Dié geurige kerriesmake gaan goed saam met visse met ’n growwe tekstuur soos snoek, geelstert of dorado, maar jy kan enige tyd ook bevrore stokvis gebruik.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 10-15 minute (afhangende van die grootte van die porsies)

MARINADE

180 ml (3/4 k) klappermelk

180 ml (3/4k) natuurlike jogurt

skil en sap van 1 groot  suurlemoen

1 rooi brandrissie, ontpit en gekap

15 ml (3 t) garam masala of geroosterde kerrie

5 ml (1 t) fyn komyn

3 ml (ruim ½ t) borrie

1 ui, fyn gekap

30 ml (2e) vars gemmer, gerasper

5 knoffelhuisies, fyn gedruk

VIS

4 porsies  snoek, geelstert of dorado

sout en peper na smaak

Voorverhit die oond tot 220 °C.

MARINADE 

Meng al die bestanddele, buiten die vis en sout en peper. Plaas die visporsies in ’n niemetaalbak, giet die marinade-bestanddele oor en laat minstens 15-20 minute marineer. Plaas ’n liggies geoliede oondpan of bakplaat 5 minute in die oond.

Pak die visporsies in die oondpan of bakplaat en geur met sout en peper. Giet die orige marinade oor en oondbraai 8-10 minute tot net gaar (die vleis moet nie meer glaserig vertoon nie en maklik vlok). Sit die vis warm voor saam met fynaartappel en ’n sambalslaai van gekapte rooi uie en komkommer waaroor bietjie asyn en suiker gesprinkel is.