Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

Genoeg vir 4-6 mense

20 g botter

250 g spekvleis, in blokkies gesny

8 stingeluie, fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

2 blikke (170 g elk) tuna, gedreineer

100 g songedroogde tamaties (in vloeistof), grof gekap

8 eiers, geklits

50 g spinasie, gesnipper

100 g mozzarellakaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 200 °C. Verhit die botter in ’n groot pan. (Maak vooraf seker die pan is oondvas en sal niks in die oond oorkom nie.)

Braai die spek en stingeluie tot gaar en geurig. Geur met sout en peper.

Roer die tuna en tamaties by en braai ’n minuut. Giet die eiers by en roer liggies oor matige hitte. Sodra die eiers begin stol, geur met sout en roer die spinasie by.

Sprinkel die kaas oor en sit die pan in die oond tot die boonste deel van die eiers gestol het en die kaas gesmelt is – dit behoort sowat 5 minute te duur. Haal die pan uit die oond en sny die frittata in skywe.

Sit die frittata voor saam met roosterbrood en slaai.