Mej. J. Hoff van Malvern, Johannesburg, se oorspronklike resep was vir ’n cannelloni gemaak met tamatiemaalvleis. Maar omdat vleis deesdae so duur is, het ons hierdie spinasie-cannelloni bedink wat net so lekker is.

As jou vleislus egter te groot is, maak ’n skottel tamatiemaalvleis aan en rol dit in die lasagnevelle toe.

Genoeg vir 3-4 mens

Bereiding: 25 min

Gaarmaaktyd: 35 min

helfte van ’n 690 g-bottel tamatiepuree

30 ml (2 e) suiker

30 ml (2 e) basilieblare, gekap

30 ml (2 e) olyfolie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

500 g spinasie, sonder stele

4 wiele fetakaas

14 lasagnevelle

2 eiers

125 ml (½ k) melk

sout en peper na smaak

125 ml (½ k) mozzarella, gerasper (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n oondbak.

Geur die tamatiepuree met ’n bietjie suiker en basilieblare.

Giet die helfte in die voorbereide bak.

Verhit die olie in ’n pan en roerbraai die ui en knoffel tot sag.

Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.

Verwyder van die hitte en voeg die fetakaas by.

Laat lê die lasagnevelle in kookwater tot hulle buigbaar is, maar nie sag nie.

Skep 2-3 lepels vol spinasiemengsel op ’n vel, vou toe en pak regop (soos op die foto) of plat in die bak.

Skep die res van die tamatiesous oor of tussenin.

Klits die eiers en die melk, geur met sout en peper en giet oor.

Sprinkel die gerasperde kaas oor indien verkies en bak sowat 30 minute tot die eiermengsel gestol is.

Sit voor met slaai.